KULTUUR
KULTUUR
Die kultuurprogram van Laerskool Swartland het dit ten doel dat alle leerders aan ’n verskeidenheid van kulturele aktiwiteite blootgestel word. Ons streef dus daarna om ‘n groot persentasie van ons leerders aan kultuurbedrywighede te laat deelneem en dat hulle ’n positiewe ervaring sal hê en hulle volle potensiaal sal verwesenlik.
Musiekdepartement
Individuele onderrig gedurende skoolure vind in die volgende instrumente plaas:
Musiekonderrig in Klavier en Blokfluit (gr. 2 – 7)
Kitaar en Solosang (gr. 4 – 7)
Musiekteorie word tydens skoolure deur die musiekpersoneel van ons skool se Musiekdepartement, naamlik me. Thomas en me. Zöllner aangebied. Leerders betaal ’n vasgestelde kwartaallikse fooi.
Nuwe aansoeke word aan die einde van die jaar met ouers gekommunikeer. Aansoekvorms word op Google Forms beskikbaar gestel, asook op die skool se D6-Kommunikasie platform geadverteer. Nadat ’n musiekaanlegtoets deur alle aansoekers afgelê is, word die beskikbare plekke gevul en die res van die aansoekers word op ’n waglys geplaas vir die duur van die jaar. Soos plekke deur die loop van die jaar beskikbaar word, word nuwe musiekleerders ingeneem.
Daar word aan die begin van die jaar ’n Musiekinligtingsaand vir al die ouers van die musiekleerders aangebied sodat alle betrokke partye ingelig kan bly oor die werkswyse van die Musiekdepartement. Leerders word ingeskryf vir deelname in klavier, blokfluit en solosang by die Eisteddfod en word ingeskryf vir UNISA-eksamens in klavier, blokfluit en musiekteorie.
Aan die einde van die eerste en derde kwartaal word leerders se vordering deur middel van ’n musiekverslag aan ouers gekommunikeer, en aan die einde van die tweede en vierde kwartaal lê al die leerders ’n musiekeksamen by die onderskeie musiekonderwysers af. Die ouers ontvang ’n rapport met die uitslae van hierdie eksamens.
In die vierde kwartaal word ’n musiekaand vir ouers en belangstellendes aangebied, waar al die leerders van die Musiekdepartement geleentheid kry om op te tree.
Kore
Die Juniorkoor oefen Woensdae en Vrydae in die skoolsaal.
Die Seniorkoor oefen Dinsdae en Donderdae in die skoolsaal.
Beide kore word deurlopend geleentheid gebied vir optrede in die skool en gemeenskap.
Spreekkore
Die Junior- en Seniorspreekkoor oefen in die Grondslagfasesaal en word voorberei om aan die Eisteddfod deel te neem.
Eisteddfod
Laerskool Swartland affilieer by Wes-Boland Eisteddfod waar leerders in verskeie afdelings ingeskryf word. Hulle word vir hierdie jaarlikse kompetisie voorberei deur ons talentvolle personeel. Afdelings waarin daar deelgeneem kan word sluit in:
Musiek (klavier, blokfluit, solosang)
Kore
Prosa & Poësie
Letterkunde
Voorbereide en Onvoorbereide Lees
Spreekkore
Fotografie
Handskrif
Skolekuns
Toneel
Laerskool Swartland spog met ‘n talentvolle toneelgroep wat uit graad 4 – 7 leerders bestaan. Die doel van die toneelgroep is om leerders se selfvertroue en kommunikasievaardighede te ontwikkel. Daar word gefokus op die basiese beginsels van toneelspel soos karakterisering, stemwerk, beweging, verbeelding en teater etiket. Leerders se talente word ontwikkel deur ervaring op te doen in verhoogproduksies. Dié gekeurde jong akteurs en aktrises verteenwoordig Laerskool Swartland by verskeie toneelfeeste en interskole-kompetisies.
Skoolkonsert
Elke derde jaar bied die Grondslagfase 'n skoolkonsert aan, en van tyd tot tyd word 'n Heelskoolkonsert aangebied waar alle leerders van graad RR tot graad 7 die geleentheid kry om deel te neem. Die hele personeel is by hierdie geleenthede betrokke.
WOW Spelkompetisie & Spelling Bee
Leerders kry jaarliks geleentheid om aan die spelkompetisies deel te neem.
Vir meer navrae oor kultuuraangeleenthede, stuur gerus ’n e-pos aan [email protected].
“A true artist is not one who is inspired, but one who inspires others.”
– SALVADOR DALI